Ekonomie van Zimbabwe

Ekonomie van Zimbabwe
Geldeenheid Zimbabwe Goud
Statistieke
Ranglys t.o.v. BBP (2006)[1] 132ste
Bruto binnelandse produk (2015) 14,4 miljard VSA-$[2]
Groeikoers van BNP (2016) 0,3% (skatting)
BBP per capita (KKP, 2015) 1072 VSA-$
Produk volgens sektore (2011) landbou (20,4%), nywerhede (24,6%), dienste (54,9%)
Inflasiekoers (skatting, 2011) 5,6%
Bevolking onder die broodlyn¹ 80% (skatting, 2008)
Mannekrag (2011) 3,856 miljoen
Mannekrag volgens sektore landbou (66%), nywerhede (10%), dienste (24%) (1996)
Werkloosheid (Januarie 2009) 94%
Buitelandse handel
Invoere¹ 4,223 miljard VSA-$ (2011)
Handelsvennote¹(2010) Suid-Afrika 58,0%, Volksrepubliek China 8,7%
Uitvoere¹ 2,731 miljard VSA-$ (2011)
Handelsvennote¹ (2010) Demokratiese Republiek van Kongo 14,8%, Suid-Afrika 13,4%, Botswana 13,2%, Volksrepubliek China 12,7%, Nederland 5,9%, Italië 4,6%
Publieke finansies
Publieke skuldlas¹ (2006) 108,4% % van BBP
Bronne: CIA Factbook Geargiveer 24 Desember 2018 op Wayback Machine, 1IMF

Die ekonomie van Zimbabwe is in vergelyking met die meeste ander Afrikalande hoogs ontwikkeld en het al 'n hoë vlak van industrialisering bereik.[3] Nogtans het die Zimbabwiese ekonomie as gevolg van wanbestuur in 'n baie ernstige krisis beland en was in die eerste dekade van die 21ste eeu besig om in mekaar te tuimel.

Zimbabwe beskik oor 'n beduidende ekonomiese potensiaal met sektore soos landbou, mynbou en toerisme wat tot in die middel van die 1990's gefloreer het. Naas vrugbare landbougrond is die land ook ryk bedeel met natuurlike hulpbronne soos hoëgraadse metallurgiese chromietreserwes, steenkool, koper, asbes, nikkel, goud, platinum, ystererts en seldsame aardes, en 'n natuurskoon wat toeristetrekpleisters soos die Victoria-waterval insluit.

Zimbabwe beskik oor 'n goed ontwikkelde infrastruktuur, en die opleidingsvlak van Zimbabwiërs is nog steeds bo die gemiddelde van Afrika, alhoewel dit nou besig is om te daal. As gevolg van die politieke en ekonomiese krisis het die ekonomiese lewe, met uitsondering van die mynbousektor, sedert die laat negentigerjare geleidelik tot stilstand gekom. Die ekonomie het tussen 1998 en 2008 met bykans die helfte gekrimp, en net in 2008 het ekonomiese aktiwiteite met 'n verdere veertien persent afgeneem.[4]

Die ekonomiese klimaat word oorheers deur uiters negatiewe faktore soos hiperinflasie, 'n wisselkoers wat kunsmatig op 'n onrealistiese vlak gehou word, 'n algemene tekort aan buitelandse valuta en beperkings op invoere. Nywerheidsproduksie en beleggings het sterk afgeneem, en talle sakeondernemings is gesluit. Die nywerheids- en dienstesektor word bowendien deur die grootskaalse emigrasie van opgeleide mannekrag geknel.

Die regering het pogings onderneem om die inflasiedruk deur 'n monetêre hervorming (in Junie 2006 is nuwe banknote uitgereik en drie nulle van Zimbabwe se geldeenheid "geskrap") en die afkondiging van amptelike prysbeheer in Junie 2007 te verswak. Algemene regsonsekerheid en die regering se onvermoë om eiendomsregte te beskerm het nogtans dringend benodigde buitelandse beleggers afgeskrik. Die Zimbabwiese bevolking ervaar gereeld krag- en wateronderbrekings, terwyl brandstof nouliks beskikbaar is en gewoonlik net op die swartmark gekoop kan word.

Die vernietiging van krotbuurte het baie nadelige gevolge vir die informele sektor gehad, wat die hoofbron van inkomste vir die armer bevolking is. As gevolg van die humanitêre ramp ly tot by 5,5 miljoen mense aan ondervoeding, terwyl honderdduisende Zimbabwiërs na die buiteland, onder meer Suid-Afrika, gevlug het. Volgens beramings het in laat 2005 reeds sowat 'n kwart van die totale bevolking van 13 miljoen mense in die buiteland gebly.[5]

  1. classement Wêreldbank
  2. "Länder-Informations-Portal (LIPortal): Simbabwe. Besoek op 19 November 2017". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2020. Besoek op 19 November 2017.
  3. Landeskundliche Informationsseiten: Simbabwe – Wirtschaft und Entwicklung
  4. "Duitse Departement van Buitelandse Sake: Ekonomie van Zimbabwe, April 2014". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2011. Besoek op 21 April 2011.
  5. Der Fischer Weltalmanach 2007. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2006, bl. 440

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search